Ballito Gesinskerk se Christus-treë

Indien jy by enige van hierdie bedieninge wil inskakel, kontak gerus ons kerkkantoor by: 032 946 1198

…kom stap saam deur die week se bedrywighede

Sondae: As Ballito-gesinskerk is dit ‘n absolute voorreg om bymekaar te kom op ‘n Sondag om 08:30. Daar is soveel bedieninge wat help om ons erediens ‘n ware aanbiddings- en kuiergeleentheid te maak.

Klik op die ikoon om op WhatsApp navraag te doen oor die betrokke bediening.

Die Tegniese bediening.
Sorg vir die oudiovisuele dienste by eredienste asook die uitsending van dienste oor Youtube vir lidmate en vriende ver oor ons gemeente grense heen.

Erediens diensgroep.
Hierdie span help met die vriendelike ontvangs by die deure, die bediening van die nagmaal en opneem van liefdegawes.

Blomme bediening.
‘n Mooi blomme-rangskikking is veel meer as ‘n versiering! Dit help skep aan die aanbiddings-atmosfeer en versterk die boodskap.

Aanbiddings bediening.
Wat ‘n voorreg om begelei te word deur ‘n span musici en sangers. Lof en aanbidding berei die grond voor vir die woordverkondiging.

Gasvryheids bediening.
Dit is met kuiers en spesiale geleenthede wat ons met ‘n koppie koffie en iets te ete, mekaar se harte beter leer ken. Moeite word gedoen om besoekers en nuwe intrekkers gou tuis te laat voel.
Neem die tree en help om eredienste ‘n aanbiddingsgeleentheid te maak!

Dinsdag oggend:
Op ‘n Dinsdagoggend om 09:00 word daar gekuier rondom die Woord, saamgesing en gedeel in lief en leed. ‘n Besonderse geleentheid…kom wees deel!

Woensdag oggend:
Elke 3de week word daar gevleg en gebak…mens pluk nie koeksisters van bome af nie. Lekker geleentheid vir saamkuier.

Donderdag oggend:
Op ‘n Donderdag oggend word die wêreld van hongeriges betree. Met ‘n bord kos en omgee-harte volg ons in Jesus Christus se spore…

Saterdag oggend: 08:00
Stroom mense na die alombekende pannekoek, vetkoek en koeksisters van Ballito Gesinskerk. Onderling word daar lekker gekuier terwyl die vetkoeke bruin braai en suikersoet pannekoeke en koeksisters blitsvinnig verkoop. Hier is altyd hande nodig!

Saterdae
Simunye ku Jesu – Plaaslike Zoeloe werkers word aanlyn bedien met die Woord. 'n Boodskap in Engels word Saterdae gestuur per WhatsApp. Dit word ook op video opgeneem met byskrifte en grafika. Verder word elke weeksdag ook oordenkinge gestuur.'

Ballito Gesinskerk hou fees!
Driemaal per jaar word daar gewoel en gewerkskaf om Basaar en Kerskarnaval te hou waarby die hele gemeenskap betrek word. Hierdie feesgeleenthede snoer die gemeente saam en skep geleentheid vir kuier met mekaar en ander. Hierdie vorm ‘n baie belangrike deel om ons gemeente se begroting te laat klop.


Bedieningstreë met ‘n Christus-impak

Vrouebediening
Ballito Gesinskerk het 'n baie aktiewe Vrouebediening wat bekend staan as Vroulief. Al die dames is welkom om deel hiervan te wees deur geleenthede by te woon wat spesiaal geskep word om hulle lewens as God se dogters te vier en ook 'n verskil te maak deur hulle gawes en talente op 'n besondere wyse tot eer van die Here aan te wend.

Mannebediening
Ballito Gesinskerk se Mannebediening is vuur en vlam! Elke Donderdagoggend om 06:45 kom die manne bymekaar rondom 'n beker stomende moerkoffie. Ons gesels om die Woord en deel gedagtes met mekaar. Vurige besprekings is aan die orde van die dag. Alle manne is hartlik welkom!

Jeug bediening – 3 Treë vir jong navolgers van Jesus

* Kruisvuur- geloofskuiers tydens kerk Gr R tot 6
* Kruisvuur space- geloofskuiers vir ons Gr7-11’s direk na kerk.
* Netwerk- bediening vir jong werkendes en jong getroudes.

‘n Passie vir kinders en jong mense? Ons soek jou!

Internet bediening
Daaglikse oordenkinge word wêreldwyd per WhatsApp en e-pos uitgesaai!

Jesus in Aksie
Treë van sorg en omgee is die kenmerk van hierdie bediening en nie net in die gemeente nie, maar ook omgee oor grense heen. Die liefde en barmhartigheid van God word uitgedra na almal in nood. Uitreike na verskeie instansies soos die plaaslike VGK gemeente en sendingorganisasies vind plaas.

Greytown kinderhuis
Wat ‘n voorreg om ‘n verskil te maak in kinders se lewens wat nie altyd al die normale voorregte geniet nie. Toiletware, koekies, ‘n verjaarsdaggeldjie en kersgeskenk vir elke kind is van die omgee-treë. Indien daar ‘n matrikulant is word ‘n weggaantassie met baie liefde voorsien. Elke tweede jaar kom kuier die kinders vir ‘n naweek in die gemeente.

Tuinsig Tehuis vir Bejaardes (Garden View)
Dit is juis met treë na die brose en weerlose bejaardes wat hierdie bediening uitreik en ‘n verskil maak. Skenkings help met sulke bederfgeleenthede. “Vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan My gedoen” Matt. 25: 40

Beplanning: Eiendom Taakspan
Kyk na die nodige onderhoud, versekering en sekuriteit van ons geboue, toerusting en terrein.

Finansies
Kundiges in die span sorg vir die begroting en gesonde bestuur van die begroting deur die jaar
Deeglike beplanning help dat Ballito Gesinskerk gesond bestuur word.